• Mode Productions 17

Danie & Carla



Van die pink-wit-roos , kers-en-glas gevulde tafels , tot die sagte reën gordyn … hierdie hele dag was perfek want daar was ‘n opregte hartsliefde wat op 8 Desember 2018 bevestig is deur Danie en Carla se troudag in Frankfort.


Deur die nat-reënplasse kom ek op die beeldskone bruid af , met haar rug na my gedraai , en haar gesig na die halfvaal son wat agter grys wolke kop wegsteek. Die krag is af en Carla word in die dowwe lig van die stoep opgedollie vir haar spesiale dag. Dadelik straal die bruid toe ek haar groet en sy meteens haar baadjie vir my leen. Ons weet – hierdie gaan ‘n beeldskone dag wees.


Ons het die bruid vinnig onkant gevang deur haar sommer op die intrapslag te vra om ‘n kort stem-boodskap vir haar “amper”-man op te neem , en kort en kragtig het die bruid haar opgewondenheid oor die mikrofoon gedeel. Die bruid verdwyn saam met haar bruidsmeisies in die boonste kamer in en die giggels weergalm deur die groot huis , sonder krag.


By die manne gaan die aantrek ook heel vrolik. Die strooijonkers maak grappe en speel summier klavier in die sitkamer. Almal geniet warm “ouma” koffie terwyl die koue hande warm gevryf word. Danie is reg vir die dag , en soos hy ‘n video van sy “amper”-vrou af kyk , is daar trane wat vlak lê. Danie is reg om met Carla te trou.


Wanneer ons weer terugkeer na die bruid is sy ‘n visioen met haar slanke lyf in haar rok met ‘n beeldskone sleep , wat noupassend haar as bruid laat sprankel. haar pa huil! Carla glimlag van oor tot oor , en sy beklemtoon gereeld dat die weer haar nie sal onderkry nie – en dat hulle die reën nodig het. Sy sê dat dit hulle dag is , waarvoor hulle reg is , en die reën sal dit ook nie keer nie. Pragtig!


So word die hele gevolg onder klein deurskynende sambrele na die kerk geneem en ons kan die hartklop van die bruid van ‘n myl af hoor…


Voor in die kerk kyk Danie na sy stooijonkers , en hulle na hom. Jy kan die ondersteuning van sy beste vriende duidelik raaksien en jy glo hulle wanneer hulle sê dat hy lank hiervoor gewag het. Danie kyk dikwels terug na hulle asof hy fluister : “julle dis hier”. Hy sluk hard soos elke bruidsmeisie verby-loop en ‘n vinnige glimlag in sy rigting stuur. Hier kom sy bruid.

Van oor tot oor kan mens nie ophou glimlag wanneer hierdie twee mekaar sien nie. Sy lyk soos ‘n engel – en hy weet dit.


Hulle sing kerkliedere in die pragtige gebou , en die predikant bevestig hoe spesiaal dit is dat hy vir Danie en Carla op hierdie dag ook kan ondersteun en trou. ‘n Paar minute later – met die kersies wat steeds in die loopgang af brand , is Danie en Carla wettig getroud. Al het die predikant amper effe vergeet van die soen , word die twee steeds een en is hulle gretig om die res van die dag se gebeure te laat gebeur.


Chaos… dis foto tyd , en dit REEN! Die fotograwe en videograwe skarrel na plekke onderdak of onderboom om die bruidspaar af te neem – maar dit is nie moeilik wanneer die twee in mekaar se oë kyk , om te vergeet van die weer nie. Almal lag , almal is lief.


Na die fotos is dit uiteindelik tyd vir die onthaal en die gaste gons oor die pragtige saal! Vir ure lank sokkie die paartjies en Carla straal behoorlik voor die kamera. Dit is haar sprokie en mens kan dit sien. Danie kyk vir haar asof hy nog altyd geweet het , en die twee dans , lag en vier hierdie spesiale dag saam met geliefdes.


Toe ons Carla gaan groet , voel dit of ons haar jare ken en die goedhartige paartjie gloei behoorlik van geluk en liefde.


Dit was ‘n absolute voorreg om hulle spesiale dag te kon vasvang en werklik ‘n pure Afrikaanse-liefde te sien blom.

Deel in hierdie dag saam met ons: Carla & Danie Trou-film

Mode Productions 17 modeproductionsinfo@gmail.com

15 views